10.3 C
Johannesburg
Saturday, May 4, 2024

Rooksein Stel Debuut-Album Bekend

Must read

VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING

Rooksein is besig om die musiekbedryf behoorlik op horings te neem. Na die reuse sukses van Kyk Na My Hart, Damlelielief & Genade Nader stel Rooksein vandag hulle debuut album, Die Onbekende vry.

“Die album is ‘n droom wat waar word. Ek droom al oor my sangloopbaan vandat ek begin sing het, toe ek 6 jaar oud was. Ek sou nooit kon raai dat dinge werklik sou uitwerk nie. Al ons tyd, energie en emosie is in hierdie album gesit en ek hoop dit beteken iets vir iemand, maar weet ook net dat hierdie nie die einde is nie, en dat Rooksein nog baie het om te bied. My gunsteling liedjie is 10 Uit 10.” – vertel Megan

Die album bestaan uit 11 oorspronklike liedjies wat geskryf is uit hierdie drie talentvolle kunstenaars se eie penne.

“Hierdie album is vir my ‘n bewys dat enige iets moontlik is en dat as ‘n mens dit kan droom, kan jy dit doen. Van kleins af het ek hierdie gevoel gehad dat ek deel in iets groter en dat ek ‘n verskil moet maak in die wêreld daarbuite. Dit is presies wat hierdie album vir my is en ek glo vas dat hierdie album ‘n besonderse verskil kan maak by elke persoon wat hierna luister. Dit is vir my ‘n besonderse voorreg om deel te kan wees van hierdie projek en om deel te kan vorm van die hele Rooksein familie. Hierdie is net die begin. My gunstelling liedjie op die album is Want Ek Mis Jou Hier” – vertel Renier

Daar is een groot verrassing op die album waarna luisteraars beslis kan uitsien en dit is die liedjie Wees Net Beter waarop Hiram Koopman verskyn. Baie mense sal hom ken as een van die beste saksofoon spelers in ons land. Hy het al op groot verhoë opgetree en die land volgetoer saam met kunstenaars soos Spoegwolf, Elvis Blue en vele meer. Dié liedjie bring ‘n hele ander klank tot die Afrikaanse musiekbedryf, ‘n klank waaroor ons baie opgewonde is.

“My eerste album wat ek vir myself gekoop het was in Gr. 5 en dit was Green Day se album met die naam 21st Century Breakdown. As ‘n kind het ek altyd na baie musiek geluister. Die album self was so kragtig in die sin van dis hierdie kompak-verpakte geskenk van die musikante af aan die luisteraar wat hulle kuns verteenwoordig en uitdruk en die luisteraar die geleentheid gee om die kuns te interpreteer net soos wat die individu wil en voel. Ek het altyd gedroom daaroor om eendag my eie album te hê waar ek ‘n deel van my kuns daarbuite kan sit vir iemand om te luister en te interpreteer en te geniet. Dis eerlikwaar ‘n droom wat waar word. Die Onbekende is presies wat dit is. Dis ‘n mengelmoes van style en invloede van 3 komplekse individue wat Rooksein maak. Dis moeilik om ‘n gunsteling liedjie te kies op die Album want ek is mal oor almal, maar ek sal sê vir my is dit Wees Net Beter. Die liedjie se toon en boodskap is lig en die klank is universeel en natuurlik “feature” een van SA se mees talentvolle musikante, Hiram Koopman, daarin.” – vertel Dian.

Lys van snitte op album:

Kyk Na My Hart
Genade Nader
Vertrou
Woordelose Storie
Damlelielief
Kind Van Die Wind
10 Uit 10
Want Ek Mis Jou Hier
Miskien
Wees Net Beter Ft. Hiram Koopman
Rooksein

“Musiek is ons manier om iets te sê sodat ander mense dit hoor. Luisteraars sal ongetwyfeld kan vergelyk met ons klank, styl en lirieke. Ons is maar net drie jongmense wat lief is vir musiek en bevoorreg genoeg is om te kan doen waaroor ons mal is,”

Rooksein bestaan uit Megan Danner, Dian Maritz en Renier West.

Megan Danner (24) is die groep se hoofsangeres en enigste eva en kom van Paarl in die Wes-Kaap. Sy was van jongs af passievol oor musiek en sing al vadat sy ses is. Een van haar grootste loopbaan hoogtepunte – tot dusver – is dat sy onder die Top 3 geëindig het in die eerste reeks van Emo Adams se realiteitsprogram, Maak My Famous. Die musikant het ‘n wye musieksmaak wat wissel van Country tot Jazz en Rock, en sy vind inspirasie vir haar eie musiek in alledaagse dinge.

Dian Maritz (23) is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap. Hy is ‘n rustige mense-mens, met ‘n goeie sin vir humor en ‘n positiewe uitkyk op die lewe. Hy het besigheidsbestuur gestudeer, maar verklap dat hy al sy hele lewe lank doenig is met musiek. Dié Plettenbergbaaier hou baie van alternatiewe musiek en meen dat kunstenaars soos Jack Johnson, John Butler Trio, Ben Howard, Bon Iver, Mumford and Sons, Beatenberg, Johnny Clegg, Queen, Bread, The Maproom en John Mayer almal ‘n invloed op sy styl gehad het. Dian glo dat musiek kuns is wat direk met die hart praat en put baie inspirasie uit die land, geloof en verhoudings wanneer dit by sy eie werk kom.

Renier West (25) is ‘n liedjieskrywer en musikant van Rustenburg, wat inspirasie put uit die waarhede en emosies in die lewe. Musiek was nog altyd een van sy groot passies, alhoewel hy dit ook geniet het om sport, soos sokker, te doen. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet hy dit om tyd saam met sy vriende te spandeer en werk ook baie hard by sy koffiewinkel West Café wat n paar maande terug oopgemaak is saam met sy suster Bernice West.

Vir meer inligting oor Rooksein kontak:

Leozelle Bekker – [email protected] / 074 643 5438

Vir besprekings kontak:

Vocal Events – [email protected] / 071 482 2533

- Advertisement -

More articles

- Advertisement -

Latest article